'n Ondersoek na die grondwetlikheid van artikel 63 van die Belastingadministrasiewet
Abstract
Artikel 63 van die Wet op Belastingadministrasie (WBA) (28 van 2011) verleen aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) die mag van deursoeking en beslaglegging sonder ʼn lasbrief. Die primêre beginsel van bogenoemde artikel hou in dat ʼn senior SAID-amptenaar ʼn perseel op die volgende gronde sonder ʼn lasbrief kan deursoek: indien skriftelike toestemming ontvang is; indien die senior SAID-amptenaar op redelike gronde tevrede is dat daar ʼn dreigende verwydering of vernietiging van tersaaklike materiaal kan wees; dat ʼn lasbrief uitgereik sou word indien aansoek gedoen is, en dat die vertraging in die verkryging van die lasbrief die doel van die beslaglegging sal verydel.
Die konsep van ʼn deursoeking sonder ʼn lasbrief is ondersoek deur te verwys na regspraak, wetgewing, en akademiese skrywe. Die doelstellings van hierdie studie is:
1. om die omvang van die magte wat aan die SAID verleen word ingevolge artikel 63 van die WBA (28 van 2011) te analiseer;
2. om die vereistes vir geldige siviele en kriminele deursoekingslasbriewe vas te stel; en
3. te ondersoek of regspraak in verband met ander wette se deursoekingsklousules en beslagleggingsklousules moontlik op die WBA (28 van 2011) van toepassing kan wees, en
4. om te oorweeg of daar faktore is wat die grondwetlikheid van artikel 63 van die WBA (28 van 2011) negatief kan beïnvloed.
Die konsep “redelike gronde” is nie in die WBA (28 van 2011) omskryf nie, maar daar is bevind dat iemand redelike gronde het om iets te glo wanneer daar billike feite is waaruit ʼn redelike persoon met min of meer dieselfde agtergrondkennis tot dieselfde gevolgtrekking sou kom. Ten einde te bepaal of daar redelike gronde bestaan vir die deursoeking sonder ʼn lasbrief word daar van ʼn senior-SAID amptenaar verwag om geregtelike diskresie toe te pas sonder enige ingeboude oorsigmeganisme om te verhoed dat ʼn senior SAID-amptenaar sy gesag kan misbruik.
Die vereistes vir ʼn geldige lasbrief (siviel en krimineel) is ondersoek ingevolge die Strafproseswet (51 van 1977) en regspraak. Daar is bepaal dat die howe streng geldigheidsvereistes handhaaf vir lasbriewe juis omdat ʼn lasbrief inbreuk maak op ʼn persoon se reg tot privaatheid. Wanneer ʼn senior SAID-amptenaar tot die gevolgtrekking sou kom dat daar redelike gronde is om te glo dat die vereistes vir ʼn lasbrief nagekom word, is dit wel te betwyfel of daardie vereistes ingevolge die WBA (28 van 2011) genoegsaam is om te verseker dat ʼn individu se reg op privaatheid op die minste indringende wyse geskend word.
Daar is verder bevind dat bepalings oor deursoeking en beslaglegging sonder ʼn lasbrief ook in ander wette voorkom. ʼn Vergelyking is getref tussen die vereiste soos vervat in die WBA (28 van 2011) en, onder andere, die Doeane- en Aksynswet (91 van 1964). Alhoewel daar oor die algemeen heelwat ooreenkomste is, is die WBA (28 van 2011) die enigste wet wat ʼn bepaling insluit dat ʼn woonhuis of ʼn woonperseel nie sonder die toestemming van die bewoner betree mag word nie – behalwe enige deel daarvan wat vir bedryfsdoeleindes gebruik word.
Hofuitsprake in die Orion Cold Storage [P Gaertner and Others v South African Revenue Service (SARS) and Others (2013)]1, en Auction Alliance [Estate Agency Affairs Board v Auction Alliance (Pty) Ltd (2014)]2 sake is geanaliseer. In die Orion Cold Storage-hofsaak is daar vasgestel dat sekere artikels van die Doeane- en Aksynswet (91 van 1964) ongrondwetlik is. Voorts is daar bevind dat sekere artikels van die Wet op Eiendomsagentskap-aangeleenthede (112 van 1976) en die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (38 van 200) onregverdigbaar inbreuk maak op die reg tot privaatheid deur geteikende soektogte sonder ʼn lasbrief toe te laat en die artikels is ongeldig verklaar in die Auction Alliance-hofsaak (2014). Die gevolgtrekking is gemaak dat die evaluering ten opsigte van die grondwetlikheid van artikel 63 van die WBA (28 van 2011) oor deursoeking en beslaglegging sonder ʼn lasbrief nie onweerlegbaar is nie.