Sexual harassment as a ground for dismissal: a critical evaluation of the labour and labour appeal courts' decisions in Simmers v Campbell Scientific Africa
Abstract
In die hantering van seksuele teistering as 'n vorm van wangedrag het werkgewers en voorsittende beamptes die statutêre verpligting om die riglyne in die “Goeie praktykskode: hantering van seksuele teistering gevalle" (soos in 1998 uitgereik ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995) ter harte te neem. Gemelde verpligting is van deurslaggewende belang wanneer vasgestel moet word of seksuele teistering waarlik plaasgevind het en indien wel, welke dissiplinêre stappe onder die omstandighede geskik sal wees. Die kode voorsien onder andere drie faktore vir die vasstelling of 'n spesifieke daad seksuele teistering daarstel, 'n beskrywing van verskeie kategorieë seksuele teistering, hoe 'n werkgewer klagtes in hierdie verband behoort te hanteer en onder welke omstandighede ontslag geskik sal wees. Werkgewers en voorsittende beamptes behoort behoorlik alle feite van 'n gegewe saak teen die agtergrond van die kode te oorweeg ten einde onbillike en irrasionele gevolgtrekkings te verhoed. Hierdie bydrae fokus op 'n kritiese evaluering van die toepassing van die relevante kode in Simmers v Campbell Scientific Africa. In hierdie aangeleentheid is Simmers daarvan beskuldig dat hy 'n konsultant van Campbell Scientific Africa seksueel geteister het. Die beweerde gedrag het aan die einde van 'n sosiale aandete die vorm aangeneem van 'n intieme uitnodiging om die nag saam deur te bring, wat van die hand gewys is. Simmers is tydens 'n dissiplinêre verhoor aan seksuele teistering skuldig bevind en gevolglik ontslaan. Tydens arbitrasie het 'n kommissaris die ontslag bevestig. Die aangeleentheid is op hersiening geneem, waar die arbeidshof bevind het dat seksuele teistering nie plaasgevind het nie en dat die ontslag derhalwe onbillik was. Die regter het hierdie beslissing bereik na oorweging van die riglyne soos in die kode vervat. Die arbeidsappèlhof het later egter hierdie beslissing omgekeer. Die outeur bespreek welke van die twee howe se beslissings die mees geskikte is teen die agtergrond van die riglyne vervat in die kode. Die vertrekpunt behoort te wees om te bepaal of seksuele teistering hoegenaamd binne die werksfeer plaasgevind het en indien wel, of ontslag die gepaste sanksie was.
Collections
- Faculty of Law [388]