Die effek van 'n indiens-opleidingprogram op onderwysers se persepsies van Liggaamlike Opvoeding
Abstract
Navorsing toon dat daar 'n tekort aan opgeleide en gekwalifiseerde Liggaamlike Opvoeding onderwysers in Suid-Afrika is as gevolg van die herimplimentering van die vak as 'n deel van Lewensoriëntering in die nasionale skoolkurrikulum, nadat dit vir meer as 10 jaar weggelaat is. In die lig van die afname in fisieke aktiwiteit en die gepaardgaande toename in gesondheidsrisiko's onder Suid-Afrikaanse kinders, wat deur effektiewe Liggaamlike Opvoeding klasse aangespreek kan word, is hierdie tekort aan goed opgeleide en gekwalifiseerde Liggaamlike Opvoeding onderwysers kommerwekkend. Die bekwaamheid, effektiwiteit en persepsies van dié onderwyser maak verder 'n wesenlike deel van 'n kwaliteit Liggaamlike Opvoedingprogram uit. Die doel van hierdie studie was om in die konteks van 'n vyf-dag indiens-opleidingprogram vir Liggaamlike Opvoeding die effek van so 'n program op onderwysers se persepsies rakende Liggaamlike Opvoeding te ondersoek. Hierdie doel is verder gedefinieer deur die volgende doelwitte: 1) om die persepsies van Liggaamlike Opvoeding onderwysers van die hindernisse ten opsigte van die aanbieding van die skoolvak te ondersoek; 2) om die effek van 'n indiens-opleidingprogram op Liggaamlike Opvoeding onderwysers se persepsies van die waarde van die vak te toets; en 3) om die effek van 'n indiens-opleidingprogram op Liggaamlike Opvoeding onderwysers se persepsies ten opsigte van hulle vermoë en bedrewendheid om die vak te onderrig, te bepaal. Die studie is gebaseer op kwalitatiewe navorsing vanuit die teoretiese raamwerk van die Self-determination Theory (SDT) van Deci en Ryan (2000), wat die bevrediging van die basiese psigologiese behoeftes van outonomie, bekwaamheid en verwantskap as bepalend van intrinsieke motivering, voorhou. Die kwalitatiewe data-insameling het oop-einde vrae in vraelyste en individuele onderhoude behels, wat deur beperkte kwantitatiewe data vanuit die vraelyste ondersteun is. Alvorens die indiens-opleidingprogram in aanvang geneem het, is die onderwysers gevra om hulle behoeftes met betrekking tot die program weer te gee. Die indiens-opleidingprogram het na aanleiding van hierdie behoeftes, teoretiese en praktiese opleiding in die verskillende inhoudstemas van Liggaamlike Opvoeding (fisieke fiksheid, sport en spele en rekreasie-bewegingsaktiwiteite), asook didaktiek vir die aanbieding van Liggaamlike Opvoeding behels. Agt onderwysers, wat doelgerig gekies is uit die deelnemers aan die opleidingprogram, het die vraelyste op die eerste en die laaste dag van die opleidingprogram voltooi en semi-gestruktureerde individuele onderhoude het op die laaste dag van data insameling plaasgevind. Tydens die data-analise is kategorieë en temas met behulp van kleurkodering en spesifieke stappe en riglyne geïdentifiseer en geïnterpreteer en die antwoorde op die kwantitatiewe vrae is met behulp van beskrywende statistiek geanaliseer. Die temas wat uit die kwalitatiewe data na vore gekom het, was eerstens hindernisse tot die aanbied van Liggaamlike Opvoeding, waarin die sub-temas van oorvol klasse, onvoldoende apparate en fasiliteite en onvoldoende tydstoekenning ingesluit was. Die tweede tema was die ingesteldheid en motivering van leerders en onderwysers, waar die deelnemers gevoel het dat die kennis, vaardighede en nuwe idees wat in die indiens opleiding program verkry is, tot hoër vlakke van selfvertroue en motivering gelei het. Met betrekking tot die derde tema, naamlik die waarde en status van Liggaamlike Opvoeding, het die response van die deelnemers daarop gedui dat hulle positiewe persepsies en begrip van die waarde van die vak deur die program versterk is. Ten opsigte van die vierde tema het die deelnemers meer bekwaam gevoel na afloop van die program en ook dat alle Liggaamlike Opvoeding onderwysers gespesialiseerde opleiding moet kry. Die kwantitatiewe resultate het die bogenoemde bevindings ondersteun. Uit die bevindings blyk dit dat die indiens-opleidingprogram, gebaseer op die bevrediging van die behoeftes van Liggaamlike Opvoeding onderwysers binne die raamwerk van die SDT, 'n sterk positiewe effek op die onderwysers se persepsies van Liggaamlike Opvoeding gehad het. Soortgelyke indiens-opleidingprogramme kan dus 'n positiewe bydrae maak tot die effektiewe aanbieding van Liggaamlike Opvoeding en indirek tot die bevordering van Liggaamlike Opvoeding in Suid-Afrika.
Collections
- Education [1692]