Die waarde en gebruik van stilte en afsondering as geloofsdissiplines vir die Millenniale Generasie: ‘n Pastorale studie
Abstract
Die Millenniale Generasie is diegene wat tussen 1981 en 2000 gebore is; hulle staan ook as die hedendaagse jongmense bekend. Millenniale verlaat al hoe meer die kerk en toon groot wantroue in institusies. Alhoewel hulle die kerk verlaat, laat hulle nie hul geloof agter nie. Die gejaagdheid van die hedendaagse lewe dien as ‘n groot uitdaging vir hierdie generasie in hul soeke na betekenis en hul behoefte aan ‘n egte, outentieke en intieme verhouding met God. In hierdie studie word daar gefokus op die waarde wat die beoefening van stilte en afsondering vir die Millenniale Generasie kan inhou. Die doel van die studie is om te bepaal of die geloofsdissiplines van stilte en afsondering die Millenniale Generasie kan begelei in hul soeke na betekenis en ‘n egte, intieme en outentieke geloof. Daar sal teen die einde van die studie ook praktiese riglyne voorgestel word waarvolgens hierdie generasie die geloofsdissiplines van stilte en afsondering in hul daaglikse lewens kan beoefen. Om hierdie studie se doelwitte te bereik is die volgende vier take van Osmer se praktiesteologiese integrasiemodel gebruik, wat die volgende insluit: • Beskrywend-empiriese taak — "Wat is besig om te gebeur?" • Interpreterende taak — "Waarom gebeur dit?" • Normatiewe taak — "Wat behoort te gebeur?" • Pragmatiese taak — "Hoe kan ons reageer?" Daar is ‘n empiriese kwalitatiewe studie met individue van die Millenniale Generasie gedoen deur middel van een-tot-een—onderhoude. Met behulp van data wat tydens die onderhoude ingesamel is, is daar vasgestel is dat Millenniale ‘n groot smagting na ‘n egte, outentieke en intieme verhouding met God het, dat hulle positiewe sowel as negatiewe sienings van die kerk het en dat hulle ‘n soeke na ‘n lewe en geloof van betekenis en aanvaarding het. Daar is ook vasgestel dat die gejaagdheid van die alledaagse lewe groot uitdagings vir hierdie generasie inhou met betrekking tot hul geestelike lewe. Die uitkomste van hierdie studie het daarop gedui dat die inkorporasie van die geloofsdissiplines van stilte en afsondering van groot waarde vir die Millenniale Generasie kan wees rakende hul geloofslewe en soeke as jongmense. Na aanleiding van die resultate van die vier take van Osmer (die beskrywend-empiriese taak, intepretatiewe taak, normatiewe taak en pragmatiese taak) kon daar ‘n praktiese begeleidingsmodel deur middel van ‘n kursus/seminaar ontwikkel word wat riglyne bied oor die wyse waarop die Millenniale Generasie bygestaan enbegelei kan word in die beoefening en gebruik van die geloofsdissiplines van stilte en afsondering.
Collections
- Theology [793]