Invloede op die verband tussen perseptueel-motoriese bevoegdhede en akademiese prestasie by laerskoolleerders: NW-CHILD studie
Abstract
Perseptueel-motoriese bevoegdheid is belangrik vir kinders se algehele ontwikkeling. Dit dra veral by tot hulle kognitiewe ontwikkeling en speel gevolglik 'n belangrike rol in hul akademiese prestasie op skoolvlak. Verskeie rolspelers beïnvloed perseptueel-motoriese bevoegdheid, sowel as akademiese prestasie, waar sommiges buite die beheer van die kind is (bv. sosio-ekonomiese status, die skoolomgewing, en onderwysers se kennis), terwyl ander rolspelers weer hoofsaaklik van toepassing is op onderliggende vermoëns waaroor die kind beskik, en motoriese vaardighede, visuele persepsie, uitvoerende funksie, fisieke fiksheid en liggaamsamestelling onder andere insluit. Hierdie proefskrif is op vier doelstellings gebaseer, waarvan die eerste twee doelstellings slegs op ontledings van graad 7-leerders van toepassing is, terwyl doelstelling drie en vier longitudinale ontledings van die volle tydperk van sewe skooljare waaroor die studie gestrek het, ingesluit het. Eerstens was ten doel om die mate waartoe verskillende funksionele visueel-perseptuele konstrukte wat onderverdeel word in basiese, opeenvolgings- en komplekse vaardighede, se invloede op akademiese prestasie van graad 7-leerders in die Noordwes Provinsie van Suid-Afrika, te bepaal. Tweedens het die studie ten doel gehad om die invloed van uitvoerende funksies, soos onderverdeel in werksgeheue, uitvoerende funksie en inhiberingsbeheer, op akademiese prestasie van graad 7-leerders in die Noordwes Provinsie van Suid-Afrika te bepaal. Die derde doel was om die langdurige invloed van lae sosio-ekonomiese status, soos geïdentifiseer by graad 1-leerders, op die verband tussen hul vroeë perseptueel-motoriese bevoegdheid en akademiese prestasie in graad 7 in die Noordwes Provinsie van Suid-Afrika te bepaal. Laastens was die doel om te bepaal wat die langdurige invloed van obesiteit, soos geïdentifiseer by graad 1-leerders, op die verband tussen hulle vroeë perseptueel-motoriese bevoegdheid en hulle akademiese prestasie in graad 7 in die Noordwes Provinsie van Suid-Afrika sal wees. Die studie het gebruik gemaak van verskeie proefgroepsamestellings binne die North-West Child Health, Integrated with Learning and Development (NW-CHILD) longitudinale studie. Dié studie het oor die hele laerskooltydperk van sewe jaar gestrek en het proefpersone afkomstig van Kwintiel 1- tot Kwintiel 5-skole, vanuit 20 verskillende skole in vier skooldistrikte in die Noordwes Provinsie van Suid-Afrika ingesluit. Proefpersone is ewekansig gekies en het longitudinaal deelgeneem aan 'n basislyntoetsing in graad 1 (2010, N=816) en twee opvolgmetings in graad 4 (2013) en graad 7 (2016), onderskeidelik. Verskillende geslagte (seuns en dogters), rasse (wit, swart, Indiër en ander), en sosio-ekonomiese statusgroepe (hoog en laag) is by die gestratifiseerde ewekansige NW-CHILD populasiesamestelling ingesluit. Vir die doeleindes van die betrokke studie is sosio-ekonomiese skoolstatus as 'n proksie vir kategorisering van sosio-ekonomiese status gebruik. Doelstelling een het gebruik gemaak van 'n dwarsdeursnit-studieontwerp binne die longitudinale NW-CHILD studie en het 518 proefpersone met 'n gemiddelde ouderdom van 12.92 jaar (±0.42) ingesluit, waarvan 51.98% seuns was, 48.02% dogters, 74.70% swart, en 25.30% wit. Die ondersoekgroep het ook proefpersone vanaf lae (59.55%) en hoë sosio-ekonomiese status-skole (40.45%) ingesluit. Proefpersone se basiese, opeenvolgings- en komplekse visueel-perseptuele vaardighede is met die Test of Visual Perceptual Skills, derde uitgawe (TVPS-3) vasgestel, terwyl hul akademiese prestasie bepaal is deur 'n provinsiale assessering (Noordwes Provinsiale Assessering [NWPA]) en die Junie-skoolassessering van die betrokke skole. Vir doeleindes van die tweede doelstelling is slegs twee van die vier skooldistrikte wat deel uitmaak van die NW-CHILD studie, as 'n subpopulasie geselekteer waar 272 (12.95 jaar, ±0.40) proefpersone deel van die ondersoekgroep uitgemaak het, waarvan 54.41% seuns was, en 45.58% dogters. Die proefpersoongroep het verder ook uit verskillende rasse (77.21% swart en 22.79% wit) en sosio-ekonomiese status-groepe (58.46% laag en 41.54% hoog) bestaan. Uitvoerende funksie vermoë, verdeel in werksgeheue, uitvoerende funksie en inhiberingsbeheer, is bepaal deur gebruik te maak van die Tower of London, tweede uitgawe (TOLDX-2). Akademiese prestasie is weereens vasgestel deur provinsiale (NWPA) en Junie-skoolassesserings. Doelstellings drie en vier het al die proefpersone betrek wat in 2010, 2013 en 2016 aan die metings deelgeneem het en gevolglik oor volledige datastelle beskik het (N=381). Die geslagsverspreiding binne die groep was redelik gelyk (seuns 47.51%, dogters 52.49%), terwyl rasgroepe 'n aanvaarbare verteenwoordiging van Suid-Afrika se bevolkingsdemografie was (swart 72.70%, wit 27.30%), en proefpersone uit hoë (42.78%) en lae (57.22%) sosio-ekonomiese status-skole, deel van die ondersoekgroep uitgemaak het. Akademiese prestasie in graad 1, 4 en 7 is bepaal deur punte wat tydens die provinsiale (JNA en NWPA) en skoolassesserings behaal is, te analiseer. Perseptueel-motoriese bevoegdheid is vasgestel deur gebruik te maak van die Bruininks Oseretsky Test of Motor Proficiency Short Form, tweede uitgawe (BOT-2 SF), asook drie volledige subkomponente van die BOT-2, naamlik krag, balans en hardloopspoed en ratsheid. Addisioneel tot reedsgenoemde metings vir doelstellings drie en vier, is proefpersone se liggaamsmassa-indeks (LMI) ook vir doelstelling vier bereken en is die proefpersone op grond van gestandaardiseerde norme van ontledingsdoeleindes in vier LMI-kategorieë geplaas. Die vier LMI-kategorieë het nooit-oorgewig-; normaal-na-oorgewig-; altyd-oorgewig-; en oorgewig-na-normaal-groepe ingesluit. Statistiese analises vir doelstellings een en twee was soortgelyk en die Statistica-rekenaarprogram is gebruik om die data te analiseer (Statsoft, 2017). Om die verbande tussen onderskeidelik verskillende funksionele visueel-perseptuele konstrukte en akademiese prestasie, en uitvoerende funksies en akademiese prestasie te bepaal is gebruik gemaak van Spearman Rangorde korrelasiekoëffisiënte (r). Vir uitvoerende funksie is 'n Pearson korrelasie-analise (r) verder uitgevoer om vir die effek van sosio-ekonomiese status op bogenoemde analise te kontroleer. Geslag-, ras- en sosio-ekonomiese statusverskille is in beide doelstellings ontleed deur onafhanklike T-toetsing, waar p≤0.05 as 'n statisties-betekenisvolle maatstaf gebruik is, en hierdie verskille opgevolg is met praktiese betekenisvolheid, waar d-waardes gelyk aan 0.2 (klein), 0.5 (medium), en 0.8 (groot) as prakties-betekenisvolle verskille aanvaar is. Vir doelstellings drie en vier is 'n Spearman Rangordekorrelasie-analise (r) uitgevoer om eerstens te bepaal of daar 'n verband tussen vroeë perseptueel-motoriese bevoegdheid en latere akademiese prestasie bestaan (Statsoft, 2017). Akademiese en perseptueel-motoriese bevoegdheidsverskille en veranderinge tussen die verskillende sosio-ekonomiese groepe (hoog en laag) en verskillende liggaamsmassa- indeks-kategorieë (altyd-oorgewig, oorgewig-na-normaal, nooit-oorgewig, normaal-na-oorgewig) is longitudinaal ondersoek deur gebruik te maak van 'n latente groeikurwe-analise binne 'n strukturele vergelykingsmodel (Structural Equation Modeling/SEM) raamwerk (AMOS, weergawe 25). Die SEM-analise is verder gebruik om die langdurige invloed van onderskeidelik sosio-ekonomiese status en oorgewig/obesiteit op die verband tussen vroeë perseptueel-motoriese bevoegdheid en latere akademiese prestasie te bereken. Die resultate wat behaal is met betrekking tot doelstelling een het getoon dat basiese, opeenvolgings-, sowel as komplekse visueel-perseptuele vaardighede die akademiese prestasie van graad 7-leerders op twaalfjarige ouderdom betekenisvol beïnvloed het. Betekenisvolle korrelasies is tussen basiese visueel-perseptuele prosesse (veral ruimtelike verhoudings) en die eerste addisionele taal (r=0.33; r=0.30), wiskunde (r=0.32), sowel as die graadpuntgemiddeldes (r=0.41; r=0.40), tydens onderskeidelik die skool- en provinsiale assesserings gevind. Visueel-perseptuele opeenvolgingsprosesse het statisties-betekenisvolle korrelasies van slegs klein praktiese betekenisvolheid met tale, wiskunde en die graadpuntgemiddeld getoon (r=0.14 tot r=0.28). Komplekse visueel-perseptuele prosesse het matig gekorreleer met die eerste addisionele taal (r=0.33) en die graadpuntgemiddeld tydens die provinsiale (r=0.39), en die skoolassessering (r=0.40). Die twee komplekse visueel-perseptuele vaardighede, naamlik figuuragtergrond-diskriminasie (r=0.34) en visuele sluiting (r=0.36), het ook betekenisvol met die graadpunt- gemiddeldes tydens die Junie-skoolassessering gekorreleer. Die resultate behaal met betrekking tot doelstelling twee dui daarop dat sekere uitvoerende funksies ook in graad 7, op twaalfjarige ouderdom, akademiese prestasie betekenisvol beïnvloed. Uitvoerende funksie en inhiberingsbeheer het onderskeidelik statisties-betekenisvolle korrelasies van klein praktiese betekenisvolheid met tale (r=0.12; r=0.13), wiskunde (r=0.15; r=0.12) en graadpuntgemiddeldes (r=0.14; r=0.14) tydens beide die assesseringsgeleenthede getoon. Werksgeheue (beplanning- en probleemoplossingsvaardighede) het egter nie met akademiese prestasie van graad 7-leerders gekorreleer nie. Nadat daar vir sosio-ekonomiese status se invloede gekontroleer is, het slegs inhiberingsbeheer (r=0.14) statisties betekenisvol met wiskundeprestasie in graad 7 gekorreleer. Die SEM-modelle wat ontwikkel is met betrekking tot doelstellings drie en vier het beide oor goeie passingsmaatstawwe volgens statistiese vereistes beskik (CFI = 0.873, 0.879 en 0.864, 0.868; CMIN/DF = 3.983, 4.289 en 3811, 4.093; RMSEA = 0.089, 0.093 en 0.086, 0.090). Die resultate het betekenisvolle invloede op die verband tussen perseptueel-motoriese bevoegdheid en akademiese prestasie getoon, met akademiese grondslag (0.380; 0.386) en goeie perseptueel-motoriese vermoëns in graad 1 (0.149; 0.208), wat getoon het om belangrik te wees vir akademiese prestasie in graad 4 (0.653; 0.799) en gevolglik ook in graad 7. Seuns (-0.237; -0.256), en leerders uit lae sosio-ekonomiese omstandighede (-0.463; -0.576) het volgens die ontleding van doelstelling drie ook akademies swakker presteer. Lae sosio-ekonomiese status het akademiese prestasie gedurende graad 1, 4 en 7 negatief beïnvloed, terwyl oorgewig- en obese leerders in die ontleding van doelstelling vier akademiesgewys betekenisvol beter gevaar het as leerders in die ander LMI-kategorieë (nooit-oorgewig, normaal-na-oorgewig en oorgewig-na-normaal). Uit die studie het dit geblyk dat oorgewig en obesiteit die perseptueel-motoriese bevoegdheid van laerskoolleerders benadeel, hoewel oorgewig, soos geïdentifiseer in graad 1, nie op die lange duur hulle akademiese prestasie negatief beïnvloed het nie. Beter akademiese prestasie het veral tydens graad 1 en graad 4 in die oorgewiggroepe voorgekom, alhoewel hierdie verskille teen graad 7 hoofsaaklik nie meer beduidend was nie en ook nie die verband tussen perseptueel-motoriese bevoegdheid en akademiese prestasie op die lang duur beïnvloed het nie. Ander rolspelers soos sosio-ekonomiese status was eerder beduidend vir akademiese prestasie teen graad 7. Op grond van bogenoemde bevindinge word die gevolgtrekking gemaak dat vroeë perseptueel-motoriese bevoegdheid 'n betekenisvolle rol in latere akademiese prestasie speel en dat lae sosio-ekonomiese status tot 'n groot mate beide perseptueel-motoriese bevoegdheid en akademiese prestasie regdeur die laerskoolloopbaan negatief beïnvloed. Hierdie gevolgtrekking lei tot die aanbeveling dat perseptueel-motoriese bevoegdheid reeds vanaf 'n jong ouderdom beklemtoon moet word deurdat dit op 'n ouderdomsgepaste wyse deur kundiges ontwikkel moet word, weens die bevestigde verband met latere akademiese prestasie. Daar word ook aanbeveel dat leerders uit lae sosio-ekonomiese areas spesiale aandag ontvang in terme van addisionele akademiese hulp, blootstelling aan visueel-perseptuele en uitvoerende funksie-ervarings, asook ouderdomsgepaste perseptueel-motoriese ontwikkeling, om die nadelige effek van lae sosio-ekonomiese status op akademiese prestasie te minimaliseer. Sosio-ekonomiese status het deurgaans invloede getoon op akademiese prestasie wat verdere strategieë vanuit verskillende oorde en vanaf belanghebbendes noodsaak om hierdie negatiewe effekte op kinders se akademiese vordering te probeer minimaliseer. Oorgewig het geblyk om wel perseptueel-motoriese bevoegdheid op die lange duur negatief te affekteer, hoewel dit nie akademiese prestasie negatief beïnvloed het nie. Die agteruitgang wat gevind is in oorgewig leerders se perseptueel-motoriese vaardighede vereis wel voorkomende strategieë, aangesien dit later in hul lewens akademiese prestasie negatief kan beïnvloed of tot fisieke onaktiwiteit kan bydra, wat kan lei tot gepaardgaande negatiewe gesondheidsgevolge.
Collections
- Health Sciences [2061]