The value and way forward of History – a motivational discourse from a 21st century perspective.
Abstract
Om die waarde van Geskiedenis as vak te bespreek, is so oud soos die
akademie self. As die waarde van Geskiedenis egter beoordeel sou word teen
die agtergrond van ‘n veranderende samelewing (bv. interdissiplinêr gedrewe
beroepseise, die gemaklikheid van inligtingonttrekking dmv moderne
tegnologie en ‘n groter begrip vir kultuurgroepe in die wêreld oor beskikbare
kommunikasiemoontlikhede afstand laat “krimp” het) dan behoort die fokus
ten opsigte van Geskiedenis – veral as skoolvak – ook andersoortig gemotiveer
te word. In onderrigprosesse in die verlede het politieke en, dikwels, eensydige
vaderlandsgeskiedenis voorkeur in Geskiedenisonderrig geniet. Hierdie beeld
is totaal strydig met die resente navorsingsfokus van Geskiedenis as dissipline
wat veel interdissiplinêr neig. Gevolglik is met hierdie artikel beoog om juis
dié neiging te verdiskonteer en ‘n andersoortige motiveringsvoorstel vir ‘n leerprogram
aan te bied. As agtergrond vir die voorstel is die volgende fasette ook
oorsigtelik aangeraak:
i) huidige persepsies van vakdidaktici in Geskiedenis en tersiêre tendense
m.b.t. studentegetalle ii) ‘n Geheueverfrisser voor te hou van die waarde en plek
van Geskiedenis vanuit ‘n akademiese perspektief iii) Drie “impressionistiese” scenarios van Geskiedenisonderrig voor te hou vanuit ‘n eie belewenis met
die vak/dissipline iv) Geskiedenis se interdissiplinêre sterkte vanuit moontlike
kurrikulum/leerprograminhoude te debatteer en v) ‘n Motiveringsvoorstel vir
‘n geskiedenisgerigte leerprogram (dus sou gesê kon word: “praktiese” geskiedenis)
aan te bied. Die bedoeling hiermee is geensins om Geskiedenis as
regmatige vak/dissipline te vervang nie maar om ‘n bykomstige geleentheid
binne die opvoedingsproses te skep waarin Geskiedenis se waarde meer in die
praktyk gekomplimenteer word.