Selfregulering as sentrale konsep in gedragsverandering : implikasies en nuwe uitdagings / Karel Botha
Abstract
My intreerede verskaf ‘n oorsig oor die wetenskap van selfregulering waarna die stand van navorsing oor selfregulering in Suid-Afrika kortliks verken word en enkele implikasies en uitdagings vir die kliniese sielkunde ten slotte aangedui word. Selfregulering verwys na die proses van hoe individue hulle eie gedrag, na gelang van terugvoerprosesse, aanpas, wysig of korrigeer. Dit is ‘n belangrike komponent van die brein se uitvoerende funksies, en ontwikkel deur middel van neurologiese groei, ondervinding, sosialisering, en leer. Selfregulering word oor nie-liniêre fases as ‘n dinamiese, maar outonome en bewuste proses uitgevoer. Suid-Afrikaanse navorsing is relatief skaars, en daar word aangetoon dat navorsers hierdie leemte as ‘n belangrike uitdaging moet beskou. Drie implikasies van bestaande kennis oor selfregulering asook die uitdagings wat daaruit voortvloei, word ten slotte krities bespreek.